Maak mooi in Afrikaans
Maak mooi in Afrikaans

Maak mooi in Afrikaans

Almal het die reg vir lekker bederfies!

Probleem:

Dit is nie vir jou man genoeg om net gereeld seks te hê nie. Dit is sy hartsbegeerte dat julle liefde maak waartydens albei bevrediging ervaar. As ons as vroue maar net regtig kan verstaan dat seks vir mans baie meer emosioneel is as wat ons dink, dan sou ons sekerlik dinge baie anders hanteer. As ons werklik kon begryp – dit snap – dat mans hulle koningskap daardeur bevestig, was die meeste van ons dalk meer lus en bereid.

Jou man wil hê jy moet seks geniet: 

Helaas, ons dink verkeerdelik dat alles vir mans net oor die klimaks gaan. Ons is verkeerd geleer dat hulle in ekstase is as hulle ’n orgasme kan bereik – al lê die vrou so stil soos ’n standbeeld.

Terwyl ons besig is om mans se seksuele behoeftes te bekyk, fokus ons hierdie maand op die tweede belangrikste behoefte van mans. (Onthou jy nommer 1? Dat jy ten minste sal reageer in die bed, asseblief?) Jou man se tweede belangrikste behoefte is dat jy dit ook sal geniet en bevrediging sal ervaar. So, dit gaan vir hom oor wedersydse bevrediging wanneer julle intiem verkeer.

As ’n vrou nie ook ’n orgasme bereik nie, is dit vir baie mans ’n klap in die gesig. Dit laat hom soos ’n mislukking voel en hy wonder wat hy anders moet doen. Maar ’n vrou wie se tone krul van genot, laat hom soos die beste minnaar ooit voel.

Dit vat tyd om gefokus en lus te raak, en dit is oukei:

Dis ongelukkig nie ewe maklik vir vroue om in ’n kits lus te wees nie, wat nog te sê van ’n klimaks bereik teen die haastige pas waarmee party mans dinge in die slaapkamer afjaag. Vroue wat hiermee sukkel, meen dat dit ’n tipiese vroueprobleem is, dít terwyl die meeste vroue wel tot fantastiese, bevredigende seks in staat is. As jy een van die vroue is wat na daardie ontwykende genot smag, kan jy dalk jou probleem of behoefte uit die volgende opsies identifiseer:

’n Lae libido weens hormone:

’n Hormoon en ’n demoon is mos baie na aan dieselfde ding – met die voordeel dat demone weggebid en uitgejaag kan word. Hormone moet egter met medikasie of hormoonaanvullings behandel word. As jou testosteroonvlak baie laag is (iets wat nie noodwendig ouderdomverwant is nie), sal jy sukkel om ’n orgasme te bereik. Jy sal waarskynlik ook nie baie geprikkel en lus wees vir seks nie.

’n Haastige man:

’n Vrou se liggaam het meer voorbereiding nodig as ’n man s’n. As ’n man selfsugtig is en net aan sy eie bevrediging dink, sal sy vrou uit die aard van die saak aan die kortste ent trek. Sommige mans dink hulle kan wegkom met min aanraking en voorspel. Dan voel hulle agterna teleurgesteld as die vrou nie ook in ’n rekordtyd by die wenpaal aankom nie.

Vroue wat emosioneel onvervuld voel:

Eers lief, dan lus – dis die volgorde vir ’n vrou! Dít terwyl mans soms in die oggend – voordat hy nog aan enige hartskonneksie dink – lus en gereed is vir aksie. Vroue wat emosioneel leeg, eensaam, afgeskeep en ongewaardeer voel, sal baie meer moet fokus en insit om by die genotvolle klimaks uit te kom as vroue wat geliefd en vervuld voel by hulle mans.

Fisieke of emosionele trauma:

Daar is baie vroue wat getuig van ’n onbevredigende sekslewe as gevolg van molestering of verkragting in die verlede. Vroue wat in vorige verhoudings emosioneel afgekraak is, sukkel ook om die man in haar lewe te vertrou en heeltemal oor te gee.

’n Wanpersepsie, vrees of skaamte:

Ons opvoeding en persepsie oor seks speel ’n geweldige rol in die slaapkamer. Soms is vroue te angstig om ’n orgasme te bereik. Redes daarvoor kan wees ’n oormatige sondebewustheid of om skaam te wees oor naaktheid en jou liggaam. ’n Negatiewe houding as gevolg van seksopvoeding (of ’n gebrek daaraan) kan sake in die slaapkamer ook verder versleg.

Vroue wat gefokus is op alles behalwe die liefdesdaad:

Jy sal nie glo hoeveel vroue vir my sê hulle dink aan die kinders of dinge wat nog in en om die huis gedoen moet word wanneer hulle seksuele omgang het nie. Dit terwyl jou arme man sy bes doen dat dit vir jou ook lekker moet wees. Luister, geen seks gaan ooit vir ’n vrou bevredigend wees as sy eintlik besig is om koek te bak terwyl die man swoeg en sweet nie. Om seks te geniet is ’n wilsbesluit! ’n Besluit om te fokus en aktief deel te neem!

Wees in beheer sodat jy nie ’n fantastiese ervaring misloop nie: 

Daar is sekerlik baie ander redes wat ek kan byvoeg waarom vroue sukkel om ’n orgasme te bereik. Maar ongeag die rede, bly die groot uitdaging dat jy beheer moet (en kan) neem. Probeer bepaal wat jou verhoed om hierdie wonderlike geskenk te geniet. Kry hulp as dit nodig is – mediese hulp, sielkundig of sommer net ’n lekker boost vir jou huweliksverhouding by ’n huwelikseminaar. As jy méér uit jou huwelik wil hê, sal jy moet fokus op jou man se behoefte aan wedersydse bevrediging as dit by seks kom.

Start typing and press Enter to search

Shopping Cart

No products in the cart.

af Afrikaans
X